Are you ready for the clash?

Buy your tickets online!

Online Tickets

Koppe kan waai as VS nie wen

Posted on Monday, 15 Oct 2012

Koppe kan waai as VS nie wen

KIMBERLEY. – Die koppe van verskeie besluitnemers in die kamp van die Toyota Vrystaat Cheetahs kan binne die volgende paar weke rol as die hartlandspan nie teen die OP Kings relegasie kan vryspring nie.

Die Vrystaters speel Vrydag in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein in die eerste van twee promosie-relegasie-wedstryde teen die Kings. 
Die volgende een is oor twee weke in die Baai.

Die Vrystaters kan net hulself verkwalik dat hulle hierdie seisoen jammerlik misluk het in hul poging om van die verdoemende laaste plek op die Curriebeker-reeks se puntelys weg te kom.

Die nuwe formaat van die kompetisie, waar net ses spanne aan die Premierliga deelneem en die res in die Eersteliga sake uitspook, het van die begin af die vrees van relegasie onder die top-ses ingeboesem.

Maar dit was nie genoeg om die span tot beter vertonings aan te spoor nie.

’n Sege die naweek oor die Westelike Provinsie sou weliswaar die Toyota Vrystaat Cheetahs van ’n plek in die halfeindronde verseker het. En dit sou die relegasie-spook besweer het. 
Die Vrystaat se geploeter deur die seisoen – die span het eindelik net drie uit sy tien wedstryde gewen – was bloot nie genoeg nie en het hom die laaste ruk in ’n weerlose posisie geplaas wat moontlike relegasie betref.
 
Daar word al geruime tyd gevra dat die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) moet huis skoonmaak en die president van die VRU, Lindsay Mould, kan so vroeg as volgende week aan dié versoek gehoor gee.

“Of ons nou Vrydag die OP Kings klop of nie, ek gaan al die besluitnemers bymekaar kry en as daar aggressief opgetree moet word, sal ek dit doen.

“Baie dinge het die seisoen verkeerd geloop en ons het sonder ’n rits beseerde staatmakers gespeel, maar dit is geen verskoning nie. Daar is geen verskonings nie,” het Mould gister gesê.

Dit is die eerste keer sedert 1988 wat die Vrystaters in promosie-relegasie betrokke is en sal as die swakste Vrystaat-span in 24 jaar gebrandmerk word as hulle gerelegeer word.

En asof dit nie genoeg is nie, speel hulle teen ’n omgekrapte Kings-span wat in die Rosestad sal aankom op die rug van die Eersteliga-titel wat hulle Saterdag voor die Pumas se neuse weggeraap het. 

En nadat hulle ten koste van die Lions Super-status verwerf het, wil die besoekers links en regs aan almal bewys hulle verdien hul plekkie in die son.

“As ons gerelegeer moet word, sal dit grootskeepse nagevolge inhou. Ons sal borgskappe verloor en dit sal maak dat almal se poste in die gedrang kom.

“Vrydagaand is al waarop die spelers en bestuur nou moet fokus,” het Mould bygevoeg.

Die VRU-president het ook van sy kant af ’n waarskuwing aan die Cheetahs gerig om nie die Kings gering te skat nie. 

“Vrystaat het destyds spelers soos Falie Oelschig, Darron Nel, Wayne Stevens en George Whitehead nie goed genoeg geag nie en hulle die deur gewys. Hulle sal almal kom om hulself opnuut te bewys.

“Ons kan nie net met een of twee punte wen nie. Ons sal genoeg drieë moet druk dat dit nie later op punte-verskil neerkom nie.”  

Oudspelers bly positief 

Vrystaters hoef nie bekommerd te wees dat die Toyota Vrystaat Cheetahs deur promosie-relegasie uit die Curriebekerreeks geskop gaan word nie. 

So meen oudspelers wat Volksblad genader het ná die Cheetahs se loesing teen die Westelike Provinsie die naweek.

Braam van Straten, oud-Springbok, sê dit is sleg dat die Toyota Vrystaat Cheetahs in ’n relegasie-wedstryd moet speel, maar dat daar geen rede tot kommer is nie.

“Die Toyota Vrystaat Cheetahs het in die laaste 20 minute teen die Westelike Provinsie bewys hy hoort steeds in die Curriebeker-reeks. Daar is geen twyfel dat hy die Kings sal wen nie.

Die Cheetahs is in ’n ander klas as die Kings. Hy hoef nie te kommer nie.”

Frik du Preez, rugbyspeler van die millennium, sê die Toyota Vrystaat Cheetahs sal die Kings wen.

“Vrystaat sal daai ouens (Kings) in hulle moere in speel. Wat is die doel van relegasie? Rugby het ’n professionele sport geword, maar die administrasie daarvan is nog in die amateur-era.”

Ook Nelie Smit, oud-Springbok én Vrystaat-afrigter, meen die Toyota Vrystaat Cheetahs sal die Kings klop.

“Die Toyota Vrystaat Cheetahs kan beslis die Kings klop, as hy minder foute maak. Die span word geteister deur beserings, maar hy moet eenvoudig wen. Ek glo hy sal wen.”

Share this article: