Are you ready for the clash?

Buy your tickets online!

Online Tickets

Vrystaat word reg bestuur – Harold

Posted on Tuesday, 16 Oct 2012

Vrystaat word reg bestuur – Harold

 

BLOEMFONTEIN. – Vrystaat-rugby word professioneel bestuur en sy borge staan in dié moeilike tyd bankvas agter die Toyota Vrystaat Cheetahs.

Só het Harold Verster, besturende direkteur van die Toyota Vrystaat Cheetahs, gesê oor die krisis waarin die Vrystaat hom bevind aan die vooraand van promosie-relegasie-wedstryde teen die Oostelike Provinsie-Kings.

Die Vrystaters was laas in 1988 in Curriebeker-uitspeelstryde betrokke en het ook die eerste keer in nege jaar nie ’n halfeindstryd gehaal nie.

Volgens Verster sal daar ná die seisoen selfondersoek gedoen word.

“Ons moet regstel wat verkeerd is, al is dit hoe erg. As ’n besigheid in die moeilikheid is, moet jy gaan kyk na die probleme en dit regstel.”

Hy meen die kritiek wat die Toyota Vrystaat Cheetahs kry, is ondanks sowat 13 beserings, asook swak beslissings teen hulle, geregverdig.

Ondersteuners meen die probleme begin bo, maar Verster stem nie saam nie. 

“Daar is baie mense wat sê Vrystaat-rugby word swak bestuur.

“Ek kan dit nie insien nie. Ons het ’n professionele entiteit en voldoen aan die meeste vereistes.”

Hy het gesê die Vrystaat het eksterne ouditeure, vier bekwame SuperSport-direkteure, ses plaaslike rolspelers wat rugbyadministrateurs en sakelui is en ’n besigheidsforum wat hom bystaan. 

“Toe ons destyds moes aansoek doen vir ’n Super-franchise, was ons tweede van al die plaaslike spanne vanweë ons besigheidsgrondslag.” Die Vrystaat word steeds op dié grondslag bedryf.

Boonop meen Verster die unie se borge steun hom. 

“Dis nie goed vir ’n borg om met ’n verloorspan te sit nie, want sy beeld is ook in gevaar. Maar Toyota se kontrak is solied en sal minstens tot einde volgende jaar aangaan. Hulle kyk na die hernuwing.”  

 

 

 

 

 

Share this article: