Posted on Friday, 14 Oct 2022
Op die foto is Gerrit Coetzer (links) en Gary Kotze (regs)
16 Oktober 1939 - 4 Oktober 2022
Vrystaat Rugby eer die nagedagtenis van Gary Kotze na afsterwe op Dinsdag, 4 Oktober. Ons innige simpatie met sy familie en vriende.
Gary Kotze was op sy dag ‘n voorslag-skeidsregter wat in meer as 50 eersterangse wedstryde vir die Vrystaatse Rugby-unie, en ook in die Noord-Vrystaat, die fluitjie gehanteer het.
Hierdie oud-skoolhoof het in 1991 by Gerrit Coetzer as Vrystaatse skeidsregterbaas oorgeneem en met die eeufees in 1995 was hy steeds Voorsitter van die Vrystaatse Rugbyskeidsregtersvereniging.
Hy was ‘n man wat geglo het ‘n mens kan nie ‘n rugbyskeidsregter word alvorens jy self jou kop in ‘n skrum gedruk het nie of nie self onder die plettervat van ‘n groot, sterk senter of losvoorspeler deurgeloop het nie. “Daardie gevoel vir die spel kry jy eers wanneer jy in die oond gesak het,” aldus wyle Gary Kotze.
Hy is later tot erelid van die Vrystaatse Rugby-unie verkies en was ‘n lewenslange lid van die VRU Skeidsregtersvereniging.
Gary Kotze het dikwels as verteenwoordiger van die Vrystaatse Rugby-unie vir besoekende rugbyspanne aan Bloemfontein opgetree.