Welcome to the official Toyota Cheetah page

All you want to know about the team

Online Tickets

Geseende Feesseisoen

Posted on Friday, 13 Dec 2013

Geseende Feesseisoen

Vrystaat Rugby wens alle ondersteuners van die Toyota Cheetahs en Toyota Vrystaat Cheetahs ‘n geseënde feesseisoen toe en voorspoed vir die nuwe jaar.  Dankie vir jou lojale en getroue ondersteuning van die span!

Vrystaat Rugby se kantore sal gesluit wees vanaf Vrydag, 13 Desember 2013 en heropen weer amptelik op Maandag, 20 Januarie 2014.

2013 was ‘n groot jaar gewees met vele prestasies waarop ons baie trots is. 

Teen die einde van die 2012-seisoen was die Vrystaters nog in ‘n erge oorlewing teen die OP Kings in ‘n promosie-relegasie-stryd gewikkel – wat die Blikore tóé maklik oorleef het.

Teen die einde van die 2013-seisoen egter, kan die Toyota Cheetah-spanne daarop roem dat hulle die ENIGSTE vanjaar in die land was wat die uitkloprondes van die Super- én die Curriebeker-kompetisie gehaal het!

Want in die Super-reeks het die Bulle (2e) en die Toyota Cheetahs (6e) die uitkloprondes gehaal, terwyl die WP (1e), Haaie (2e), Toyota Vrystaat Cheetahs (3e) en die Goue Leeus (4e) in die Curriebeker-halfeindstryde betrokke was.

Én in albei kompetisies was dit so hittete of die Cheetahs het verder gevorder: Verloor in die Super-kwarteindstryd met 13-15 teen die Brumbies in Canberra (druk 2 drieë teenoor die geen van die Brumbies!) en verloor 22-33 teen die Haaie in die Curriebeker-halfeindstryd nadat die Vrystaters net soos die Haaie drie drieë gedruk het!

Ander hoogtepunte in 2013 was toe die Toyota Cheetahs drie van hul vier oorsese Super-wedstryde gewen het – onder andere die Waratahs in Sydney (27-26). Die oorwinnings oor die Stormers (26-24) in Bloemfontein en die Haaie (12-6) in Durban, asook oor die twee voormalige kampioene Reds (27-13) en die Blues (34-13), in Bloemfontein, was eweneens stroopsoet!

Tien van die 31 spelers wat ingespan is - Willie le Roux, Johann Sadie, Robert Ebersohn, Raymond Rhule, Piet van Zyl, Philip van der Walt, Lood de Jager, Lourens Adriaanse, Adriaan Strauss (kaptein) en Coenie Oosthuizen – het in ál 17 Super-wedstryde gespeel.

Adriaan Strauss (89 -44 as kaptein), Hennie Daniller (83), Heinrich Brüssow (70), Sarel Pretorius (67), Robert Ebersohn (59), Tewis de Bruyn (57), Coenie Oosthuizen (57) en Ryno Benjamin (51) het hul Super-totale opgestoot.

TWAALF nuwelinge het vanjaar die Toyota Vrystaat Cheetahs in die Absa Curriebeker-kompetisie verteenwoordig – wat die getal spelers wat sedert 1895 vir die Vrystaat se senior span uitgedraf het, tot 1 519 spelers opgestoot het.

•Twaalf van die 35 spelers, wat dié seisoen vir die Toyota Vrystaat Cheetahs uitgedraf het, was nuwelinge, van wie die volgende ses manne op die VRU se jaareindgeselligheid hul volle kleure gekry het: Johann Sadie (senter), Elgar Watts (losskakel), Lood de Jager (slot), Oupa Mohoje (slot/flank), Willie du Plessis (losskakel/heelagter/senter) en Rossouw de Klerk (stut).

•Op dieselfde byeenkoms is Adriaan Strauss, Springbok-haker en die Toyota Vrystaat Cheetahs-kaptein, as PWC se Speler van die Jaar, Lood de Jager (slot), as PWC se Speler wat die Beste Vordering, en Robert Ebersohn (senter) as PWC se Spelers se Speler van die Jaar bekroon.

•Daarbenewens het Hercú Liebenberg (haker) op 17 Augustus teen die WP op Nuweland in sy 50e wedstryd gespeel - hy’t sy totaal tot 57 opgeskuif. Wian du Preez, Springbok-stut wat bykans vier jaar vir Munster in Ierland gespeel het, het op 10 Augustus 2013 ná ‘n afwesigheid van 3 jaar 283 dae weer vir die Toyota Vrystaat Cheetahs in die Curriebeker-kompetisie uitgedraf. Wian het sy getal Vrystaat-wedstryde tot 110 opgeskuif; Robert Ebersohn (71 – 10 as kaptein), Hennie Daniller (70) en Francois Uys (57) het ook hul loopbaantotale opgeskuif.

•Hennie Daniller, Robert Ebersohn, Johann Sadie, Elgar Watts, Lappies Labuschagne, Boom Prinsloo (kaptein in 9 wedstryde) en Oupa Mohoje het in ál 11 Curriebeker-wedstryde gespeel.

 Die Toyota Vrystaat Cheetahs se oorwinning van 22-7 oor die Blou Bulle op 12 Oktober in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein was toe die Vrystaters se vrypas halfeindstryd toe. Hoewel hulle in albei wedstryde verloor het, was die Toyota Vrystaat Cheetahs se twee vertonings teen die WP – 14-15 in Kaapstad; en 27-29 in Bloemfontein – ander wedstrydhoogtepunte.

•Raymond Rhule, Springbok-vleuel, se vier drieë teen Griekwas op 4 Oktober op GWK-park in Kimberley was ‘n groot speler-hoogtepunt. Hy is die negende Vrystater wat sedert Boetie McHardy - teen die Grens in 1914 - vier drieë in ‘n Curriebeker-wedstryd druk. McHardy was in 1912 die Vrystaat se eerste Springbok-rugbyspeler.

•Drie Vrystaters - die senters Robert Ebersohn en Johann Sadie, asook Lood de Jager (slot) - is ná die tyd in die Curriebekerspan van die seisoen deur ‘n paneel skrywers van die Rugby365-webwerf ingesluit, terwyl Elgar Watts (losskakel) ‘n “reserwe” was.

Die Vrystaat se Vroue-span het die halfeindronde van húl interprovinsiale kompetisie gehaal, maar die twee junior spanne, Onder 21 en Onder 19, níé. Die Toyota Vrystaat Cheetahs Onder21’s kan egter daarmee spog dat hulle vanjaar die enigste span in SA is wat die WP, wat die kompetisie gewen het, geklop het.

Op KLUBVLAK het die Sentrale Universiteit vir Tegnologie die SA Varsity-skild onoorwonne ingepalm, én

Die Vrystaatse mans het die SA Weermag-toernooi in Heidelberg gewen.

Vrystaat Rugby sien uit na ‘n nuwe jaar met nuwe vooruitsigte! 

Share this article: