Posted on Tuesday, 01 Nov 2022
Voor van links: Piet von Solms, Bill Troskie
Vrystaat Rugby eer die nagedagtenis van Piet von Solms (78) ná sy afsterwe op Sondag 30 Oktober 2022. Hy was die afgelope maand met longontsteking in die hospitaal.
Ons innige simpatie met sy familie en vriende.
Piet von Solms was op sy dag ‘n voorslag-rugbyadministrateur en –afrigter, wat in die jare 1990’s en 2000 die leisels by Oud-Greys (1904) hanteer. Oud-Greys is saam met Schoemanpark (1894), Collegians (1902) en die Vrystaatse Universiteit (1912) die oudste klubs in Vrystaat-rugby.
Dit was in sy tyd dat Oud-Greys die Stadsbeker vyf keer (1990, 1991, 1995, 1997, 2007) in ‘n totaal van 22 keer sedert 1907 (eerste keer) ingepalm het.
Hy was ondervoorsitter van Oud-Greys – wyle Bill Troskie was voorsitter, wyle Nelie Smith die afrigter en die Springbok Theo Oosthuizen die kaptein - toe Oud-Greys in 1991 die Stadsbeker én die gesogte jaarlikse Toyota-klubtoernooi in Durban gewen het.
Von Solms het met die draai van die eeu die leisels as voorsitter by mnr. Troskie by Oud-Greys oorgeneem. Hy was die eienaar van die destydse Von Solms-lugversorgers.
Von Solms, 'n inwoner van die Aandrus-aftreeoord in die stad, het 'n lang rugbyloopbaan gehad. Hy het in die 1960's en 1970's op vleuel vir die Suid-Vrystaat uitgedraf en later vir die De Beers-rugbyklub in Kimberley.
Hy is op 4 Oktober 1986 met Gerda van der Westhuizen getroud. Sy was van 26 Mei 1976 tot met haar skielike dood op 4 April 2013 vir 37 jaar van haar 58 jaar in diens van die VRU. Met haar afsterwe was Gerda die Uitvoerende Hoofbeampte van die VRU.
Sy roudiens word op Vrydag, 4 November om 11:00 in die aftreeoord gehou, waarna hy langs sy vrou begrawe sal word. Von Solms word deur sy seuns, Johan en Pieter en sy dogter, Nellie, askook agt kleinkinders en drie agterkleinkinders oorleef. 'n Vierde kleinkind word binnekort gebore.
Johan het tussen 1992-’95 vir die Vrystaat flank gespeel, in 1996 vir Suidwestelike Distrikte en in 1997 vir die Griffons.
Inligting deur Frikkie Janse van Rensburg